Ses bemanningslede vas ná Hongkong-bootongeluk
2012-10-02 12:35
Hongkong – Ses bemanningslede van twee passasiersbote wat gebots en die lewe van 37 mense in Hongkong geëis het, is in hegtenis geneem, het die gebied se sekuriteitshoof Dinsdag gesê.
“Die polisie het vanmiddag (Dinsdagmiddag) ses individue in hegtenis geneem... hulle word ondersoek nadat hulle mense se lewens op see in gevaar gestel het,” het die minister van sekuriteit, Lai Tung-kwok, op ‘n mediakonferensie gesê.
Hy sê drie bemanningslede van die plesierboot wat in die ongeluk gesink het en waar al die sterftes plaasgevind het, is in hegtenis geneem, sowel as drie van die veerboot wat daarteen gebots het.
Die polisiehoof, Tsang Wai-hung, sê die verdagtes is verantwoordelik vir die bestuur van die bote.
“Nog mense kan in hegtenis geneem word,” het hy bygevoeg.
Die dodetal ná die botsing het met een gestyg na 37, met meer as 100 mense wat beseer is.
Meer as 120 passasiers en bemanningslede was aan boord van die Hong Kong Electric-plesierboot, wat Maandagaand op pad was na 'n vuurwerke-vertoning in die Victoria-hawe.
Die botsing het naby die Lamma-eiland plaasgevind.
Verskeie mense het in die water beland en die vaartuig het binne minute gesink.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AFP