Serwiese betogers beskou Mladic as 'n held
2011-05-30 10:30
Belgrade – Duisende betogers het nasionalistiese liedere gesing en baniere vasgehou terwyl hulle Ratko Mladic, voormalige Bosniese Serwiese weermaghoof, vereer het.
Minstens 7 000 betogers het die strate buite die Serwiese parlement ingevaar en daarop aangedring dat die vermeende oorlogsmisdadiger, wat hulle as ‘n held beskou, vrygelaat word.
Meer as 3 000 polisielede het rondom regeringsgeboue en Westerse ambassades gestaan weens die vrees dat betogings gewelddadig kon word. Sekere betogers naby die Turkse ambassade, wat naby die parlementsgebou geleë is, het polisiebeamptes met klippe gegooi.
Talle betogers het regse slagspreuke geskree en ander het die Nazi-saluut gegee.
Betogers het gesê Serwië moet Mladic nie aan die Verenigde Nasies (VN) se misdaadshof in Den Haag, Nederland, oorhandig nie.
“...Hierdie is ‘n betoging teen die skandelike inhegtenisneming van die Serwiese held,” het Lidija Vukicevic, ‘n beampte vir die Serwiese radikale party, aan die skare gesê.
Mladic, Europa se mees gesoekte oorlogsmisdaad-vlugteling, is Donderdag in hegtenis geneem. Hy was amper 16 jaar lank voortvlugtig.
Hy word van volksmoord beskuldig ná die Srebrenica-menseslagting, waartydens 8 000 Moslem-mans gedood is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP