Selfoonoproep red aardbewing-slagoffer
2011-10-24 20:55
Ankara – Drie oorlewendes van die 7.2-aardbewing in Turkye is onder ‘n hoop puin uitgehaal, een danksy 'n noodoproep wat hy met sy selfoon gemaak het.
‘n Groot aantal mense is vasgevang onder hope
beton en inmekaargedraaide metaal nadat meer as ‘n honderd geboue tydens die
kragtige aardbewing ineengestort het.
Owerhede het egter gesê dat die dodetal, wat
tans op 270 staan, waarskynlik nié so hoog sal wees as wat hulle aanvanklik
gevrees het nie.
Die stad Ercis, met ‘n bevolking van sowat 75
000, is die swaarste getref en sowat 80
geboue hoër as enkelverdiepings het daar ineengestort.
Yalcin Akay is uit die puin van ‘n
ses-verdieping gebou gelig nadat hy die polisie met sy selfoon gebel en aan
hulle verduidelik het waar in die gebou hy homself bevind.
Een volwassene en twee kinders is uit dieselfde gebou gered, sowat 20
ure ná die aardbewing getref het.
Reddingswerkers het spreiligte ingespan om
deur die nag na oorlewendes te soek, terwyl bewoë familielede self in die puin
gegrawe het op soek na hul geliefdes.
Meer as 100 naskokke is Maandagoggend gevoel,
met van hulle wat tot 4.7 op die Richterskaal gemeet het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- AP