Selfmoordbommer eis 23 by biddiens
2011-09-15 18:02
Peshawar – ‘n Selfmoordbomaanvaller het die lede van
anti-Taliban-magte by ‘n spesiale gebedsdiens in Pakistan geteiken en 23 lewens
geëis.
Die aanval het op ‘n oop stuk grond naby
mielielande aan die buitewyke van die dorp Jando plaasgevind.
Roubeklaers het daar saamgetrek vir ‘n
spesiale biddiens vir vier seuns wat twee dae gelede in ‘n ontploffing dood
is.
Taliban-magte uit die noordweste van Pakistan
het verantwoordelikheid aanvaar vir die ontploffing waarin die vier skoolseuns
dood is.
"Minstens 23 mense is in die aanval dood en
meer as 50 is beseer,” het ‘n senior polisiebeampte, Salim Khan Marwat,
aangaande die aanval buite Jando gesê.
“’n Selfmoordbomaanvaller het te voet by die groep
roubeklaers aangesluit en homself opgeblaas net toe hulle wou begin bid,” het
die polisiebeampte gesê.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP