Selfmoordbomme eis 17 in Pakistan
2011-09-07 11:10
Islamabad – Altesaam 17 mense is dood toe twee selfmoordbomaanvallers die wonings van ‘n senior paramilitêre beamptes in die suidweste van Pakistan aanval het, het ‘n regeringsbeampte gesê.
Volgens Naseem Lehri is 35 mense Woensdag in die aanval in Quetta gewond.
‘n Motorbomaanvaller het ‘n bom naby brig. Farrukh Shehzad, adjunk-inspekteur-generaal van die paramilitêre mag, se woning gedetoneer. ‘n Veiligheidsvoertuig en ‘n gedeelte van die woning se muur is verwoes.
‘n Ander selfmoordbomaanvaller het by die huis ingeloop en homself binne die huis opgeblaas.
Volgens ‘n hospitaalbeampte is Shehzad se vrou en ses soldate onder die oorledenes. Shehzad is in die aanval gewond.
Niemand het tot dusver verantwoordelikheid vir die aanval aanvaar nie.
Die aanval kom twee dae nadat die weermag aangekondig het dat Younis al-Mauritani, ‘n senior leier van Al-Kaïda, in Quetta in hegtenis geneem is.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA