Sekspraatjies op TV kan stasie toemaak
2009-08-04 16:41
Riyadh, Saoedi-Arabië- Die kantore van ‘n Libanese satelliet televisiestasie (LBC) wat deur die Saoedi-Arabiese geldbaas Prince Alwaleed bin Talal beheer word, kan toegemaak word ná ‘n kletsprogram openlik met mans oor hulle sekslewens gesels het.
“Die plaaslike handelinge van die LBC uitsaaier kan toegemaak word omdat die program aanstootlik was”, het Abdullah al-Othaim, ‘n regter in Jeddah, aan die Asharq Al-Awsat pan-Arab koerant gesê.
LBC se hoofuitvoerende beampte, Pierre Daher het aan die nuusagentskap AFP gesê die maatskappy het besluit om nie kommentaar te lewer nie.
Ondersoekbeamptes in Jeddah sal voortgaan om bewysstukke na te gaan, om te besluit watter aanklagtes teen Mazen Abdul-Jawad, van Saoedi-Arabië gelê kan word ná hy sy sekslewe op LBC se kletsprogram "Bold Red Line" in Julie vanjaar uitgeblaker het. Hy is Vrydag in hegtenis geneem.
Twee ander mans wat ook deel van die program was, is ook in hegtenis geneem terwyl ‘n vierde man na Marokko gevlug het.
Abdul-Jawad het op die program erken dat hy op die ouderdom van 14 vir die eerste keer seks gehad het en ook dat hy
seksspeelgoed gebruik. Hy het ook erken dat hy sy selfoon se bluetooth gebruik om vrouens te ontmoet.
-AFP