Sarkozy spartel vir politieke oorlewing
2010-09-15 06:50
Den Haag – ’n Yslike politieke skandaal, wat tot sy val kan lei, het pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk getref.
Die affêre word al klaar met die Amerikaanse Watergate-skandaal van die jare sewentig vergelyk.
Die Franse gehaltedagblad Le Monde het aangekondig dat hy die president se kantoor voor die hof gaan daag omdat Sarkozy die geheime diens misbruik het om joernaliste se bronne vir ’n plofbare reeks nuusberigte oop te vlek.
Die sage het al ’n paar maande gelede begin toe die ondersoekende webwerf Mediapart onthul het dat Sarkozy se verkiesingsveldtog vir die presidentskap onwettig deels deur die miljardêr Liliane Bettencourt – die erfgenaam van die l’Oreal-groep – gefinansier is.
Na bewering sou Sarkozy self by ’n partytjie aan huis van Bettencourt ’n dik koevert vol kontant in ontvangs geneem het, terwyl nóg kontant aan sy veldtogbestuurder (tans minister van werksgeleenthede), Eric Woerth, oorhandig is.
Later sou Bettencourt haar bande met die regering gebruik het om vervolging weens belastingontduiking vry te spring. Dié bewerings is destyds heftig deur die president ontken.
Volgens Le Monde was Sarkozy woedend oor die bewerings.
Hy het daarop die Franse geheime diens, die Direction Centrale du Renseignement Intérieur (DCRI, of Sentrale Direktoraat van Binnelandse Intelligensie), opdrag gegee om die lek te ondersoek.
Die DCRI het toe die telefoongegewens van die betrokke verslaggewer nagegaan en die skuldige amptenaar geïdentifiseer, wat afgedank is.
Dit is onwettig.
’n Wet uit 1881, wat twee jaar gelede deur die Sarkozy-regering verskerp is, bepaal dat verslaggewers se bronne geheim is en slegs in “dringende openbare belang” deur die staat ondersoek mag word.
In beginsel mag die DCRI slegs ondersoek instel teen buitelandse spioene, terroriste, asook wanneer die land se ekonomiese of staatsveiligheid op die spel is.
Na bewering het Sarkozy die opdrag gegee omdat die skandaal hom polities in die verleentheid gebring het.
Le Monde dagvaar nie die president self nie, maar ’n sekere “X” in die president se kantoor.
Die persoon sal later geïdentifiseer word.
Die Elysée-paleis het die bewerings ten sterkste ontken.