Sarkozy kanselleer duur tuinpartytjie
2010-07-14 08:34
Den Haag – Pres. Nicolas Sarkozy van Frankryk het sy jaarlikse tuinpartytjie, wat vir Woensdag beplan is, afgestel.
Dit is luidens ’n verklaring van die paleis Elysées in Parys “nie gepas” in ’n tyd dat die staat en die gewone mense hul gordels aansienlik stywer moet trek nie.
Dit is bloot simbolies, want die partytjie kos sowat €700 000 (sowat R6,7 miljoen), wat nie ’n groot las op die staatskas sou wees nie.
Volgens politieke kenners is dit eerder ’n stap van ’n ongewilde president wat weens sy weelderige lewenstyl die bynaam “le président Bling-Bling” verwerf het.
Sarkozy het Maandagaand in ’n TV-onderhoud bewerings dat hy vir sy verkiesingsveldtog van 2007 onwettige skenkings van die miljardêr Liliane Bettencourt ontvang het, heftig ontken.
Die bewerings was dat hy gereeld by Bettencourt se huis was om dik koeverte vol kontant te ontvang.
- Die Burger