Saoedi-vroue dagvaar oor hul reg om te bestuur
2012-02-06 17:06
Saoedi-Arabië – Twee vroulike aktiviste in Saoedi-Arabië het eise teen die regering ingestel nadat die regering geweier het om bestuurderlisensies aan hulle uit te reik en ook omdat hulle verbied word om 'n motor te bestuur.
Manal al-Sherif en Samar Badawi het hul eise teen die ministerie van binnelandse sake ingedien.
Sherif, wat in Mei 2011 in hegtenis geneem is en vir tien dae aangehou is nadat sy 'n video van haarself op YouTube geplaas het waar sy bestuur, het gesê sy het besluit om die eis in te dien nadat daar geweier is dat 'n bestuurderslisensie aan haar uitgereik word.
Sherif wil hê daar moet 'n einde aan die diskriminasie teen vroue in Saoedi-Arabië kom en het gesê: "Daar is geen werklike wet wat staaf dat vroue nie in Saoedi-Arabië mag bestuur nie. Dus is daar geen regverdiging en niks wat die regering verhoed om bestuurderslisensies aan vroue uit te reik nie."
Badawi het gesê die raad van griewe by die ministerie van binnelandse sake het haar ingelig om oor 'n week op te volg en haar hofdatum te bevestig vir haar dagvaarding.
Die ultra-konserwatiewe Saoedi-Arabië is die enigste land waar vroue nie toegelaat word om te bestuur nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP