Saoedi-Arabiese vrou kry 10 houe vir bestuur
2011-09-27 19:00
Kaïro – ‘n Saoedi-Arabiese vrou is tot 10 houe lyfstraf gevonnis
nadat sy 'n verbod op vroulike motorbestuurders verontagsaam het.
Volgens Samar Badawi, ‘n aktivis in Saoedi-Arabië, is Shaima Ghassaniya Dinsdag daarvan skuldig bevind dat sy sonder die
regering se toestemming bestuur het.
Daar is nie ‘n spesifieke wet wat vroue
verbied om te bestuur nie, maar konserwatiewe godsdienstige verordeninge het
dit wel verban.
Najalaa Harriri, wat vir dieselfde oortreding
verhoor sal word, het gesê sy moet kan bestuur om beter vir haar kinders te kan
sorg.
Dinsdag se beslissing is die eerste van sy
soort in Saoedi Arabië.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP