Santorum wen in 3 deelstate
2012-02-09 07:00
Washington – Rick Santorum het die stryd om konserwatiewe Amerika se stem Woensdag gewen toe hy die huidige Republikeinse voorloper in die wedloop na die Withuis oortuigend in drie deelstate verslaan het.
Hy het Mitt Romney in al drie kandidaatsverkiesings in Minnesota, Colorado en Missouri geklop met tussen 40% en 55% van die Republikeinse stem.
Romney se beste vertoning was in Colorado, waar hy slegs 35% van die stem gewen het.
Met sy oorwinnings gister het Santorum nou reeds in vier van die agt deelstate waar kandidaatsverkiesings gehou is, gewen. Romney het in drie gewen en Newt Gingrich in een.
Santorum, wat homself as ’n “evangelistiese konserwatief” beskryf, het veral Gingrich, wat om dieselfde uiters konserwatiewe kieserskorps meeding, ’n gevoelige slag toegedien.
Hoewel Santorum in meer deelstate die grootste steun as voorkeurkandidaat teen pres. Barack Obama verkry het, loop hy steeds agter teen die meer gematigde Romney, wat tot dusver die meeste afgevaardigdes na die Republikeinse verkiesingskonvensie in Augustus verower het.
Om aangewys te word as die kandidaat teen Obama moet die wenner van die Republikeinse stryd 1 144 van die beskikbare afgevaardigdes uit die VSA se 50 deelstate se steun hê.
Soos sake tans staan, het Romney 87 afgevaardigdes, Santorum 43, Gingrich 27 en die vierde aanspraakmaker, mnr. Ron Paul, nege.
Vir die vier oorblywende Republikeinse kandidate sal die volgende vyf weke en verkiesings in 12 deelstate deurslaggewend wees.
Dit sluit in die sogenaamde “Super-Dinsdag” op 6 Maart. Verkiesings word op dié dag in verskeie state gehou. Dis tradisioneel wanneer dit duidelik word wie Obama die stryd om die Withuis op 6 November sal aansê.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld