Saddam-halfbroers straks tereggestel
2011-07-15 13:17
Bagdad – Vyf beamptes van die Saddam Hussein-era, insluitende twee van die ontslape diktator se halfbroers, sal binne ‘n maand tereggestel word, het ‘n amptenaar gesê.
Hul beplande teregstellings kom nadat die Amerikaanse weermag hulle aan die Irakse owerhede oorhandig het.
Die groep, wat Donderdagoggend na Irakse aanhouding oorgeplaas is, is vyf van die 206 aangehoudenes wat deur Amerikaanse magte aangehou is.
“Ons het die finale 206 Irakse gevangenes ontvang wat deur Amerikaanse magte aangehou is...” het Haidar al-Saadi, woordvoerder van die departement van justisie in Irak, gesê.
Hy sê die gevangenes sluit vyf seniorbeamptes van die “voormalige regime” in.
“Hulle (die vyf beamptes) sal binne een maand tereggestel word,” het hy gesê.
Saadi sê twee halfbroers van die diktator, Watban Ibrahim Hassan en Sabawi Ibrahim al-Tikriti, is onder die beamptes wat tereggestel sal word.
Sultan Hashem Ahmad, voormalige minister van verdediging, en die voormalige generale Hussein Rashid al-Tikriti en Aziz Saleh Numan is ook deel van die groep.
Die groep is in verskillende hofsake met die doodstraf gevonnis.
Hussein is in Desember 2006 tereggestel.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP