SA'ners sterf in Doha-brand
2012-05-28 21:59
Kaapstad – Twee Suid-Afrikaners, ‘n vrou en ‘n 18 maande oue seuntjie, tel onder die slagoffers van ‘n brand by ‘n luukse winkelsentrum in Doha, Katar.
Die vrou se pa het aan eNews bevestig dat sy die 28-jarige Shameega Charles van Kaapstad is. Sy was ‘n onderwyser by die Gympanzee-kleuterskool.
Haar pa, Faiek, het gesê hulle het Saterdag met haar gepraat om haar geluk te wens met haar verjaardag.
Die 18 maande oue baba, wat glo ook van Kaapstad is, se naam is nog nie bekend gemaak nie.
Al Jazeera het berig dat 13 kinders in die Vilaggio-winkelsentrum in Doha gesterf het. Daar is aan die nuuskanaal gesê “die nasionaliteite van die kinders sluit Suid-Afrikaans, Japannees, Spaans, Filippyns en Europees en Arabies in, maar geen Katarese nie”.
Minstens 19 mense is dood nadat die brand Maandag by die winkelsentrum in Doha uitgebreek het, het Sky News berig.
Altesaam 13 kinders, sewe meisies, ses seuns en vier onderwysers tel onder die slagoffers, het die ministerie van binnelandse sake gesê.
Die kinders was tussen die ouderdomme van een en drie.
Volgens 'n mediese bron is mense weens brandwonde en rookinaseming in hospitale opgeneem.
Daar is teenstrydige berigte oor waar die brand begin het, maar volgens Brian Candy, 'n fotograaf wat foto's op die toneel geneem het, het die brand by 'n kleuterskool in die winkelsentrum begin.
Die brand is binne 'n paar uur onder beheer gebring.
Volgens 'n woordvoerder van die Katarese regering is 'n hele paar lyke reeds gevind, waaronder vier onderwysers, twee brandweermanne en kinders.
Die oorsaak van die brand wat om 11:00 (plaaslike tyd) uitgebreek het is nog nie bekend nie.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa-DPA