SA’ers red vyf in Haïti
2010-01-20 22:56
Johannesburg – Suid-Afrikaanse nooddienswerkers het Dinsdag vyf mense, insluitend ‘n 60-jarige vrou, vanuit die puin in Port-au-Prince, Haïti gered.
“Na byna drie ure van harde werk kon die spanleier, Ahmed Bham, met die hulp van Mexikaanse nooddienspersoneel ‘n 60-jarige vrou red,” het die liefdadigheidsorganisasie, Gift of the Givers, gesê.
Dié organisasie het ook gehelp om sowat 600 lyke uit ‘n verwoesde hospitaal te verwyder sodat dit weer gebruik kan word.
Nóg ‘n span het by ‘n katedraal uitgehelp en noodhulp aan verskeie beseerdes voorsien.
Gift of the Givers het die afgelope naweek na Haïti vertrek nadat ‘n verwoestende aardbewing groot gedeeltes van die land verwoes het.
Met die span se aankoms het hulle “gruwelike tonele van dood en verwoesting” gesien, het dr. Imtiaz Sooliman, voorsitter van die organisasie, in ‘n persverklaring gesê.
-Sapa