SA vrou in NZ dink trein tref motorhuis
2010-09-07 08:48
Port Elizabeth - Omdat sy van Suid-Afrika kom en nie aardbewings ken nie, het sy eers gedink die onaardse, kreunende geluid is die klank van ’n trein wat ontspoor het.
Want Lydia von Rönge, eens joernalis in Suid-Afrika en nou joernalis by die Ashburton Guardian, woon naby ’n treinspoor in Ashburton.
Dié dorpie is 79 km van Christchurch. Die aardbewing het Nieu-Seeland tussen Ashburton en Christchurch getref. “Halfvyf die oggend hoor ek hierdie geluid wat ek nog nooit in my lewe gehoor het nie. Ek het opgevlieg venster toe, maar dit was nog pikdonker.”
Ag wat, het sy gedink en weer gaan slaap.
Maar later het dit vir haar begin klink asof die dreungeluid van haar motorhuis kom.
“Toe dink ek: O, nee! Die ontspoorde trein is reg in my motorhuis in, waar my nuwe maatskappymotor staan!”
Op pad na die motorhuis het sy besef dis iets anders. “Die hele huis het geruk en geskud en gebewe. Ek is rondgeslinger, soos iemand wat op ’n boot op die woeste see probeer loop.”
Sy het besef dit moet ’n aardbewing en sy na-skokke wees.
“En ek onthou skielik wat die inligtingsbrosjures rondom ramp, aardbewing en nood, wat by ons afgelewer word, voorgestel het: Hou altyd ’n slaapsak, blikkieskos, ’n stel warm klere, flitslig en water in voorraad vir ramptye.
“Ek het net my kort slaapbroek aangehad en dit was koud.”
Genadiglik het die aarde se gerammel tot bedaring gekom én haar huis het bly staan.
“Toe klim ek dadelik in my kar en gaan ry. Terug by die huis het vriende van Christchurch my telefonies in die hande gekry.
“Hulle het my vertel hoe baie mense opgepak het om binneland toe te ry, want daar was nie meer water nie en almal van hulle het tsoenami’s gevrees.”
Sy is nou ook op pad winkel toe, het sy verlig gesels, om daardie aanbevole noodvoorraad te gaan koop. Sy sal onthou om volgende keer, as só iets weer gebeur, in die deurkosyn te gaan staan.