SA soldaat sterf in Afganistan
2011-07-19 07:10
Pretoria – ’n Jong Suid-Afrikaner wat van kleins af ’n soldaat wou wees, het die Britse weermag se jongste slagoffer in Afganistan geword.
’n Afgaanse soldaat saam met wie die Britse soldate teen die Taliban werk, het hom vermoedelik doodgeskiet.
O.kpl. Paul Watkins (24) was oorspronklik van Port Elizabeth voordat hy in 2007 as ’n Statebondsoldaat by die Britse weermag aangesluit het. Hy was verbonde aan die 9th/12th Royal Lancer (Prince of Wales’s).
Watkins was Saterdagoggend op ’n ontplooiing van sy eenheid se adviesspan en ’n seksie soldate van die Afgaanse weermag in ’n gebied wes van Gereshk in Sentraal-Helmand waar hy vuurdekking aan die groep gegee het. Hy was ook die kommunikasieskakel met sy hoër hoofkwartier.
Volgens die Britse weermag se kommunikasie-afdeling het hy die groep se aktiwiteite uit sy Jakkals-pantservoertuig dopgehou.
Die patrollie was byna klaar en op pad terug na die voertuig toe daar met kleingeweervuur op hulle losgebrand is. In die skermutseling wat gevolg het, is Watkins noodlottig gewond.
Volgens lt.kol. Tim Purbrick, woordvoerder vir Taakmag Helmand, word die bewering dat Watkins deur ’n Afgaanse soldaat doodgeskiet is, nou deur ’n gesamentlike ondersoekspan bestaande uit Britse offisiere en lede van die Afgaanse weermag ondersoek.
Watkins was sedert begin Maart as deel van die derde bataljon van The Mercian Regiment (Staffords) in Afganistan ontplooi.
“Watkins het by die Royal Lancers aangesluit net nadat hy sy basiese opleiding in 2007 voltooi het. Hy was bekend as ’n vasberade en intelligente soldaat en was ook ’n spesialisskut,” het die Britse weermag in ’n verklaring gesê.
Hy het in sy vier jaar van diens ook in ’n opleiding- en mentorspan in Irak gedien. Luidens die verklaring laat hy sy ma, Jill, sy pa, Rod, en twee broers, Luke en Simon, agter.
Sy gesin het hom in ’n verklaring beskryf as iemand wat reeds van kleintyd net ’n soldaat wou wees.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld