SA-soldaat sterf in Afganistan
2010-03-04 09:55
Kaapstad - Carlo Apolis, 'n Suid-Afrikaner wat in die Britse weermag geveg het, is Maandag in Afganistan doodgeskiet.
Luidens 'n verklaring op die Britse ministerie van verdediging se webwerf is Apolis tydens 'n skietgeveg in Sangin, Helmand-provinsie, noodlottig gewond.
Hy was 28 jaar oud.
Apolis was deel van die Engelse weermag se vierde bataljon, The Rifles.
Die skut was sowat 700 m van die Blenhein-basis op patrollie toe die voorval plaasgevind het.
Apolis is in Suid-Afrika gebore, maar het sowat ses jaar gelede na die Verenigde Koninkryk verhuis.
Hy het vir ‘n geruime tyd in ‘n hotel gewerk voordat hy in 2007 by die weermag aangesluit het.
Apolis, beter bekend as Apollo onder sy medesoldate, laat sy ma, pa, twee susters en ‘n vaste vriendin, Rebecca Williams, agter.
Williams, van Cardiff afkomstig, het gesê Apolis was haar beste vriend. "Ons het alles gedeel.
"Hy sal baie gemis word deur almal wat hom geken het.”
- Nuus24