SA man in tronk kry nóg 'afslag'
2012-04-04 09:01
Johannesburg – ’n Suid-Afrikaner wat al sowat twee jaar in Afganistan in die tronk sit nadat hy tot sewe jaar gevonnis is weens moord, kan dalk al binne die volgende jaar vrygelaat word.
Phil Young van Kaapstad, wat in 2009 ’n Afgaanse veiligheidswag uit selfverdediging doodgeskiet het, het pas nóg ’n jaar afslag op sy vonnis gekry.
Pres. Hamid Karzai van Afganistan staan tydens verskillende geleenthede elke jaar vonnisafslag toe as ’n gebaar van welwillendheid.
Young het verlede jaar ook ’n deel van sy vonnis kwytgeskeld gekry. Daar bly nou nog net sowat ’n jaar van sy vonnis oor.
Volgens Young se broer, Pat, is dit ’n nagmerrie om enige behoorlike antwoorde te kry oor die presiese bewoording van die kwytskelding of die datums ter sprake.
“Ons het boonop enkele maande gelede ook ’n spesiale versoek om begenadiging aan pres. Karzai gestuur. Ons het nog geen antwoord daarop gekry nie en hoop dit sal uiteindelik meehelp dat my broer vinniger as wat ons verwag vrygelaat kan word.
“Ek sal dit egter eers glo as ek hom op die O.R. Tambo-lughawe sien staan,” het sy broer gesê.
Volgens die broer is daar geen formele proses of dokumente vir die familie om te bepaal wat Young se situasie is nie.
Young, wat as veiligheidspesialis vir ’n Amerikaanse maatskappy in die land gewerk het, het in 2009 die ondergeskikte Afgaanse wag doodgeskiet nadat dié weens ’n dispuut oor werk op hom geskiet het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Beeld