Russiese wetgewer se lyk in vat vol sement gevind
2013-02-18 13:41
Moskou – Die lyk van ‘n ontvoerde Russiese wetgewer is in ‘n vat vol sement in ‘n kelder buite Moskou gevind, het ondersoekbeamptes Maandag gesê.
“Die lyk van Mikhail Pakhomov, ‘n wetgewer van Lipetsk se stadsraad, is in een van die kelders in ‘n metaalvat gevind wat met sement gevul was,” het die ondersoekkomitee in ‘n verklaring gesê.
“Ondersoekbeamptes het genoeg inligting ingesamel om die gewelddadige aard van Pakhomov se dood te besef,” het hy gesê.
Die 37-jarige Pakhomov het op 12 Februarie in die Russiese stad Lipetsk verdwyn en ondersoekbeamptes het onmiddellik met ‘n moordondersoek begin.
Die ministerie van binnelandse sake het Maandag gesê die polisie het 11 mense in hegtenis geneem op verdenking van die moord, insluitend die vermeende 40-jarige meesterbrein.
Die ondersoekkomitee het Sondag, voor die ontdekking gemaak is, bekendgemaak dat hy die voormalige adjunkminister van behuising in die Moskou-streek, Yevgeny Kharitonov, aangekla nadat hy glo beveel het dat Pakhomov ontvoer moet word.
Ondersoekbeamptes het nog geen motief bekendgemaak vir die vermeende sluipmoord nie.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP