Russiese sekteleier 11 jaar agter tralies
2013-02-07 15:07
Moskou – ‘n Russiese sekteleier is Donderdag tot 11 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy daaraan skuldig bevind is dat hy sy volgelinge seksueel aangerand en verkrag het, het beamptes gesê.
Die Ashram Shambala-sekte, wat in 1989 in Siberië gestig is, het takke in 19 streke sowel as in Moskou en Sint Petersburg.
Ondersoekbeamptes sê die sekte het onder die leierskap van Konstantin Rudnev okkultiese praktyke bevorder en deelgeneem aan orgies onder die invloed van dwelms. Hulle het ook rituele praktyke van gedagtebeheer uitgeoefen.
“Rudnev en sy vertrouelinge het aanvanklik betaalde joga-seminare aangebied waar hulle die mees liggelowige mense uitgekies het,” het nasionale ondersoekbeamptes in Novosibirsk in ‘n verklaring gesê.
Toekomstige volgelinge, meestal vroue tussen die ouderdomme van 18 en 40, is gevolglik in die sekte geplaas waar strawwe fisieke oefeninge gekombineer is met “aggressiewe sielkundige invloede”, het ondersoekbeamptes bygevoeg.
Rudnev het ‘n boek geskryf waarin hy tradisionele waardes, soos om ‘n familie te hê, te studeer en te werk bespot het, het Natalya Markasova, ‘n woordvoerder vir die streeksaanklaers in Novosibirsk, aan AFP gesê.
Die nasionale televisie het Donderdag beeldmateriaal uitgesaai van Rudnev, ‘n groot man in sy 40’s, wat in die verdedigingsbank sit.
Argiefmateriaal is ook uitgesaai van ‘n sektevergadering waar vroue in swart sykouse en kort rokke geklee is.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP