Russiese polisie lê beslag op drie ton kaviaar
2011-10-06 15:56
Moskou – Die Russiese polisie het meer as drie ton rooi kaviaar gekonfiskeer wat smokkelaars beplan het om per militêre helikopter na markte te vervoer, het die Interfax-nuusagentskap Donderdag berig.
Die klopjag het in Rusland se Kamchatka-skiereiland op die Stille Oseaan plaasgevind.
Twee mans is in hegtenis geneem nadat beamptes ‘n gehuurde Mi-8-helikopter gevolg het na ‘n afgeleë strand in Kamchatka. Hulle het 3,2 ton salm-eiers in 126 plastiekhouers gevind wat gereed was om in die helikopter gelaai te word, het die berig gesê.
As die kaviaar geblik word en op markte in Moskou verkoop word, sal dit tussen $1,2 miljoen en $1,5 miljoen (tussen R9,9 miljoen en R12,4 miljoen) inbring.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA