Russe ontnugter met Amerikaanse aanneem-ouers
2012-02-11 20:44
Moskou – Rusland het Saterdag duidelik gemaak dat hy in die nabye toekoms 'n moratorium kan plaas op alle aannemings van Russiese kinders deur Amerikaners.
Dié aankondiging volg ten spyte van die feit dat 'n ooreenkoms oor dié saak verlede jaar bereik is.
Die Russiese ministerie van buitelandse sake het in 'n sterk bewoorde verklaring gekla oor die ligte vonnisse wat Amerikaanse howe onlangs opgelê het vir ouers wat skuldig bevind is aan die mishandeling van kinders wat in Rusland aangeneem is.
"Teen die agtergrond van 'n nimmereindigende rits misdade in die Verenigde State teen Russiese kinders, glo die Russiese ministerie van buitelandse sake... dit is van pas om binnekort die aannemingsproses vir Amerikaanse burgers in die Russiese Federasie op te skort," het die verklaring gelui.
Die Verenigde State het die wêreld se meeste aanneemouers, en Rusland is jare lank al een van die lande waar Amerikaners dié kinders aanneem.
Moskou het in die laaste paar jaar verskeie kere aangedui dat hy meer beheer oor die aannemingsproses wil hê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP