Rusie woed in Duitsland oor Islam se plek
2011-03-09 08:46
Den Haag - ’n Skerp rusie het in die geledere van die regerende Christen-Demokrate in Duitsland oor die plek van die Islam in die land uitgebreek. Leidende figure repudieer mekaar openlik oor die saak.
Die Christen-Demokrate bestaan eintlik uit twee susterpartye – die Christen-Sosiale Unie (CSU) wat net in Beiere opereer en die Christen-Demokratiese Unie (CDU) in die res van die land. Hul parlementslede vorm egter een koukus in die bondsdag in Berlyn.
Dit het alles verlede Maandag begin toe die seremoniële staatshoof, pres. Christian Wulff (CDU), op ’n besoek aan Katar in ’n onderhoud met die televisiesender Al-Jazeera gesê het die Islam het deel van Duitsland geword. Die Islam is nie dieselfde as terrorisme nie en die Moslems het dieselfde regte as alle ander mense in die land.
Net drie dae later is hy openlik gerepudieer deur die nuwe minister van binnelandse sake, Hans-Peter Friedrich (CSU).
In sy eerste openbare uitspraak sedert hy dié portefeulje voorverlede week oorgeneem het, het Friedrich gesê die Moslems wat in Duitsland woon, behoort tot die land.
Maar, het hy bygevoeg, “dat die Islam tot Duitsland behoort, is ’n saak wat nie deur die geskiedenis bevestig word nie”.
Sowel die Christen-Demokrate se koalisievennoot in die regering, die liberale Vrye Demokratiese Party (FDP) as die opposisiepartye het Friedrich heftig hieroor aangevat.
Maar toe het hy die steun van die Christen-Demokrate se gesamentlike koukusvoorsitter, Volker Kauder (CDU), gekry, wat in ’n onderhoud met die Passauer Neue Presse gesê het: “Die Islam het ons samelewing nie gevorm nie en vorm hom ook nie vandag nie. Daarmee behoort die Islam nie tot Duitsland nie.”
Onmiddellik het die voorsitter van die parlementêre staande komitee oor buitelandse sake, Ruprecht Polenz (ook CDU), teruggekap: “Diegene wat sê dat ’n wêreldgodsdiens nie tot Duitsland behoort nie, gee ook die aanhangers van die godsdiens die gevoel dat hulle nie tot Duitsland behoort nie,” het hy aan Der Tagesspiegel gesê.
Maar, soos dit ’n politikus betaam, het die bondskanselier, dr. Angela Merkel, die rusie probeer sus deur te sê sy merk geen intrinsieke teenstellings tussen die rusiemakende Christen-Demokrate nie.
- Volksblad