Rus wat politikus klap tronk toe
2011-07-08 17:58
Moskou – ‘n Aktivis vir die opposisieparty in Rusland is ‘n tronkvonnis van twee-en-‘n-half jaar opgelê ná hy 'n goewerneur ‘n oorveeg gegee het.
Die Tomsk-distrikshof het Sergei Zaikov skludig bevind op die aanklagte dat hy geweld teen ‘n amptenaar gebruik het.
Zaikov het die goewerneur van die Tomsk-distrik in Siberië, Viktor Kress, deur die gesig geklap terwyl Kress sy jaarlikse toespraak gemaak het.
“Dis vir die dood van my ouma!” het Zaikov gesê toe hy die goewerneur klap.
Hy is twee dae later in hegtenis geneem en het reeds die afgelope ses maande agter tralies spandeer.
Zaikov voer aan dat sy ouma dood is ná ‘n strooptog deur sekuriteitsdienste in 1999, toe Kress reeds goewerneur was.
Kress is ook daarvan beskuldig dat hy die bevel gegee het vir ‘n aanval op Zaikov toe hy met ‘n bofbalkorf geslaan is.
Zaikov se prokureur, Oleg Mustafayev, het die vonnis as “onregverdig” beskryf en gesê sy kliënt is van plan om te appelleer.
Zaikov, ‘n politieke aktivis, is ‘n lid van die liberale Solidarnost en United Civic Front.
Hy het ‘n geskiedenis van uitbarstings teenoor politici.
In 1993 het hy ‘n opgeskorte vonnis ontvang ná hy vir Stepan Sulakshin, ‘n streeksverteenwoordiger in die parlement, in sy agterent geskop het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP