Rowers ontvoer Britse seun (5)
2010-03-04 22:05
Islamabad – Rowers het Woensdagaand ‘n vyfjarige Britse seun van ‘n huis in Pakistan ontvoer en eis nou ‘n groot losprys vir sy terugkoms, het Britse amptenare gesê.
Die rowers het laat Woensdagaand die huis in Jhelum, in die provinsie Punjab binnegekom en die familie vir ‘n geruime tyd geterroriseer voordat hulle met die seun gevlug het.
Die seun se pa kom van Pakistan af, het George Sherriff, die woordvoerder van die Britse Hoë Kommissie in Islamabad gesê.
"Die ontvoerders het die familie oornag met hul vuurwapens aangehou. Hulle het huishoudelike items, asook die seun saam met hulle geneem,” het Sherriff gesê.
Britse amptenare het met die kind se ouers in kontak getree, wat na verwagting Donderdag na Brittanje sal terugkeer.
Die kind se pa, Raja Naqqash Saeed het aan Sky News gesê die ontvoerders eis £100 000 (R1 miljoen) voordat hulle sy seun sal teruggee.
“Ek het vir hulle gesê ek kan dit nie bekostig nie, ek het nie so baie geld nie,” het Saeed gesê.
Die Britse seun se ma het gedurende ‘n regstreekse uitsending aan Sky News gesê sy soek net haar seun terug.
“Hy is vyf jaar oud. Wat kon hy verkeerd gedoen het,” het Akila Naqqash gesê.
-Sapa-AP