Rooi Kruis-werkers in Jemen ontvoer
2011-11-23 23:08
Genève – Drie Rooi Kruis-werkers, waaronder ‘n Franse burger, is in die suide van Jemen ontvoer, het beamptes gesê.
Die drie mense – ‘n afgevaardigde van die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis, haar Jemenitiese bestuurder en ‘n personeellid van die Jemenitiese Red Crescent – is ontvoer toe hulle besig was om kos aan vlugtelinge af te lewer.
Volgens Marcal Izard, ‘n woordvoerder vir die Internasionale Komitee van die Rooi Kruis in Genève, Switserland, het die voorval Dinsdag in die provinsie Lahj gebeur.
“Ons het kontak met die owerhede en plaaslike stamlede om die kwessie vinnig op te los,” het Izard aan die Associated Press gesê.
Bernard Valero, minister van buitelandse sake in Frankryk, het aan verslaggewers gesê die ontvoerde afgevaardigde is ‘n Franse burger.
Izard wou nie die identiteite van die gyselaars bekend maak nie.
“Hulle (die gyselaars) sê hulle word goed behandel,” het Izard gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AP