Roemenië: 30 polisiebeamptes in sop oor omkoopgeld
2012-01-11 18:37
Roemenië – Aanklaers wil hê 30 Roemeense polisiebeamptes moet in hegtenis geneem word nadat hulle glo omkoopgeld by ‘n kollega, wat as ‘n prostituut opgetree het om bewyse teen hulle te bekom, aanvaar het.
Die aanklaer, Bogdan Staicu, het Woensdag gesê dat die mans prostitute gedreig het en aangedring het op spesiale fooie om hulle te beskerm, eerder as om hulle te beboet wanneer hulle uitgevang is terwyl hulle na besigheid soek.
In een geval is ‘n prostituut deur ‘n polisiebeampte geboei en het hy geweier om haar toe te laat om ‘n prokureur te bel. Hy het haar ses ure later eers vrygelaat.
Staicu sê die polisiebeamptes het ook duur motors afgetrek en aan die bestuurders gesê dat hulle die wet oortree het.
Daar is dan aan hulle gesê dat hulle boetes en strafpunte kan vermy deur omkoopgeld aan die polisie te betaal.
‘n Hof in Boekarest sal Woensdag beslis of die polisiebeamptes in hegtenis geneem sal word.
– Volg Nuus24 op Twitter
- AP