Reuse-panda in Skotse dieretuin raak siek
2012-01-13 11:45
Londen – Een van twee die reuse-pandas wat aan ‘n Skotse dieretuin geleen word, is siek en word vir eers nie aan besoekers vertoon nie.
‘n Beampte van die Edinburgh-dieretuin het gesê besoekers sal nie veel van Yang Guang, ‘n pandabeer, te sien kry oor die volgende paar dae nie, omdat hy koliek het.
Die pandabeer, saam met ‘n pandawyfie genaamd Tian Tian, is die eerste pandas wat in byna twee dekades in Brittanje te sien is.
Die paartjie, wat deur China aan Brittanje geleen word, het in Desember by die dieretuin aangekom. Hulle sal na verwagting 'n groot aantal besoekers na die dieretuin lok.
Albei pandas is agt jaar oud.
Beamptes het Donderdag gesê dat Yang Guang se siekte nie ernstig is nie, maar dat dit ongemak kan veroorsaak en mediese behandeling vereis.
Die laaste panda in Brittanje, Ming Ming, was in die London-dieretuin tot 1994, toe sy aan China teruggegee is.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AP