Reuse-brand in Aus 'voel soos bomaanval'
2011-09-16 14:52
Sydney – Brandbestryders het Vrydag gespook om ‘n reuse chemiese vuur in die hoofstad Canberra onder beheer te kry te midde van vrese dat inwoners giftige gasse kan inasem.
“Ons is 100% seker ons het die rookgevaar onder beheer,” het Paul Swain, ‘n brandweerhoof, aan verslaggewers gesê, maar bygevoeg dat die brand waarskynlik eers teen Saterdag geblus sal wees.
Inwoners is Vrydagoggend deur harde ontploffings en vuurballe wat honderde meters die lug in geskiet het, wakker gemaak, nadat die brand oornag by ‘n fabriek begin het.
Sowat 100 mense is uit nabygeleë gebiede ontruim en mense wat binne ‘n 10 km-radius van die nywerheidsvoorstad Mitchell woon, is aangeraai om binnenshuis te bly en hul vensters toe te hou.
Volgens ooggetuies het die huise en vensters geskud en sommige inwoners het gedink die stad word gebombardeer.
Twee mense is na bewering beseer.
– Volg Nuus24 op Twitter.