Reuse-aardbewing tref Turkye
2011-10-23 14:32
Ankara – Minstens twee geboue het ineengestort toe ‘n sterk aardbewing die ooste van Turkye getref het, het ‘n burgemeester gesê.
“Twee geboue het ineengestort in Van... Ons kan nie al die skade onmiddellik evalueer nie,” het Bekir Kaya, burgemeester van dié stad, aan NTV gesê.
“Daar is so baie mense dood. Talle geboue het inmekaargesak. Daar is so baie skade,” het Zulfikar Arapoglu, burgemeester van Ercis, aan dieselfde nuuskanaal gesê, het AP berig.
“Ons het dringend hulp en medici nodig,” het hy bygevoeg.
Die nuusagentskap Anatolia sê reddingswerkers probeer mense wat onder puin vasgekeer is, te bevry, het AP berig.
Volgens die Amerikaanse geologiese opname (USGS) het die aardbewing die ooste van Turkye Sondag om 13:41 (12:41 SA tyd) getref. Die skudding het 7.3 gemeet.
Daar word berig dat die gebied deur talle sterk naskokke ook getref is. Van die naskokke het 5.5 gemeet.
Reuters het intussen berig dat 50 mense tot dusver in Van gehospitaliseer is.
Geen verdere inligting is in die stadium bekend nie.
Volg Nuus24 op Twitter
- Nuus24