Rekordtemperatuur in Sydney gemeet
2013-01-18 11:24
Sydney – Temperature in Sydney het Vrydag ‘n rekordvlak bereik, met die kwik wat die middag in Australië se grootste stad tot 45,8 grade Celsius gestyg het.
Die vorige warmste temperatuur wat in Sydney gemeet is, was 45,3 grade Celsius in 1939.
“Dit is ‘n historiese dag vir Sydney,” het Dick Whitaker, meteoroloog van die Weather Channel, gesê.
“Ons het nog nie ‘n dag soos dié in Sydney se geskiedenis gesien nie.”
Sowat 70% van die land loop deur onder die erge hittegolf wat sommige kenners ‘n “koepel van hitte” noem wat oor die land hang.
Die ekstreme weer, wat verlede week erge veldbrande veroorsaak het, het daartoe gelei dat die regering se weerburo sy temperatuurskaal opgradeer het deur nuwe kleure in te bring om die hoë maksimumtemperature te voorspel.
Die hoogste temperatuur wat nog in Australië gemeet is, is 50,7 grade Celsius in Januarie 1960 by Oodnadatta in Suid-Australië.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP