Rekordbedrag vir Indiese diamant
2012-11-14 08:16
Genève – Die sogenaamde Aartshertog Josef-diamant, wat by Indië se bekende Golconda-myne ontgin is, het verskeie rekords gebreek toe dit laat Dinsdag op 'n veiling in Genève vir $21,47 miljoen (sowat R188 miljoen) verkoop is.
Die prys vir dié diamant van 76 karaat, wat deur die afslaer Christie's opgeveil is, is 'n rekordbedrag vir 'n helder, kleurlose diamant.
Dit is ook die hoogste prys per karaat vir so 'n diamant en die hoogste prys ooit vir 'n diamant wat by die Golconda-myne ontgin is.
"Dis 'n kussingvormige diamant, wat 76,02 karaat weeg, van 'n D-kleur," wat die helderste, mees kleurlose soort diamant is.
Dié soort diamante word dikwels by die Golconda-myne in die Indiese staat Andhra Paradesh gevind.
Die Aartshertog Josef, wat deur 'n anonieme koper bekom is, het eers behoort aan die Habsburgs, voormalige heersers van Oostenryk.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- AFP