Regter kry dalk trekpas oor verkragting-uitlatings
2013-01-21 12:51
Djakarta – ‘n Indonesiese regter wat grappenderwys opmerkings oor verkragting gemaak het, moet afgedank word, het die land se Regterlike Kommissie Maandag gesê.
Daming Sanusi, ‘n kandidaat vir die posisie van regter in die hooggeregshof, het verlede week tydens ‘n keuringsessie aan wetgewers gesê hy dink nie verkragting-beskuldigdes moet tot die doodstraf gevonnis word nie en dat “die verkragter en die slagoffer dit dalk geniet.”
Die opmerkings het kritiek uitgelok en versoeke vir sy ontslag het daartoe gelei dat Sanusi ‘n tranerige verskoning gegee het.
“Die Regterlike Kommissie het voorgestel dat Daming ontslaan word met die reg tot ‘n pensioen,” het die kommissie se adjunk-voorsitter, Imam Anshori, gesê.
Die kommissie oorsien die optrede van regters en stel kandidate vir die hooggeregshof voor.
Sanusi is nie die eerste Indonesiese beampte wat gekritiseer word vir uitlatings oor verkragting nie.
Fauzi Bowo, wat in 2011 goewerneur van Jakarta was, het in daardie jaar gesê vroue moet sexy klere dra om te voorkom dat hulle verkrag word. Dié opmerkings het gelei tot betogings deur vroulike aktiviste.
Die minister van onderwys, Muhammad Nuh, is verlede jaar gekritiseer nadat hy voorgestel het dat sommige vroue wat verkragtings aanmeld, eintlik aan konsensuele seks deelgeneem het.
Hy het die opmerkings gemaak nadat ‘n hoërskool naby Djakarta ‘n student geskors het wat deur ‘n vriend wat sy op Facebook ontmoet het, ontvoer en verkrag is.
Nur het later om verskoning gevra en gesê sy opmerkings is buite konteks aangehaal.
Die skool het die student weer teruggeneem ná die publiek daarop gereageer het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa-DPA