Regses, Romney gaan mekaar pak
2012-01-12 06:51
Den Haag – Die oortuigende oorwinning van oudgoew. Mitt Romney (39% van die stemme) in die Republikeinse voorverkiesing in New Hampshire beteken oorlog tussen hom en die regtervleuel van sy eie party.
Romney is betreklik gematig en staan ideologies min of meer waar sen. John McCain, Republikeinse kandidaat vier jaar gelede, hom bevind het.
Die ekstreem-regse aspirant-kandidate, soos mnre. Ron Paul (24%), Newt Gingrich (9,4%) en Rick Santorum (9,3%), is deur die Republikeinse kiesers van New Hampshire geweeg en te lig bevind.
Maar New Hampshire is een van die mees sekulêre en linkse state in die VSA.
Vandaar dat ’n Rooms-Katolieke fundamentalis soos Santorum en ’n vryemark-fundamentalis soos Paul (wat die staatsdiens met die helfte wil inkrimp en die VSA uit die Verenigde Nasies wil wegvat) nie hond haaraf kon maak nie.
Op 21 Januarie kom die volgende groot toets: Suid-Carolina.
Dié suidelike staat is baie Christeliker en konserwatiewer as New Hampshire en dit sal interessant wees om te sien hoe die kandidate daar vaar.
’n Ligte paniek het intussen in die regtervleuel van die Republikeinse Party ontstaan oor Romney se opmars na die party se kandidatuur.
Volgens die Washington Post sien baie in die regtervleuel Suid-Carolina as die laaste geleentheid om Romney te stuit.
Die probleem is dat die regses self verdeeld is en nie kan besluit watter aspirant-kandidaat om te steun nie.
Hulle is min of meer in twee groepe verdeel, die Christelike fundamentaliste en die Tea Party, wat die staat amper wil afskaf.
Die Christelike fundamentaliste se beste hoop is Santorum, maar hulle is meestal ook Protestante by wie sy Rooms-Katolieke oortuigings nie in goeie aarde val nie.
Die Tea Party sal moontlik meer aanklank vind by Paul.
’n Teken van die ligte paniek is die spitsberade wat die twee vleuels belê het.
Die Christelike fundamentaliste kom Vrydag in Texas byeen en die Tea Party op Saterdag in Suid-Carolina.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Die Burger