Regeringsgeboue in China opgeblaas
2011-05-26 11:14
Beijing - Drie ontploffings, waarvan twee motorbomme, het regeringsgeboue in China geruk en die staatbeheerde media het berig minstens vyf mense is beseer.
Die Xinhua-nuusagentskap het gesê ‘n inwoner van Fuzhou het die bomaanvalle uitgevoer weens ontevredenheid met ‘n regsaak teen hom.
‘n Motorbom het eerste ontplof in ‘n parkeerarea van die staatsaanklaer voor ‘n tweede bom op die eerste vloer van ‘n plaaslike regeringsgebou ontplof het. ‘n Derde bom het naby die stad se reguleerder van voedsel en medikasie ontplof, almal sowat 10 minute uitmekaar.
Minstens 10 voertuie is beskadig en verskeie geboue se vensters het gebars, het Xinhua berig.
Meer as 40 mense is vroeër vandeesmaand beseer toe ‘n ontevrede werknemer ‘n petrolbom by ‘n bank in die noordweste van die land laat afgaan het.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP