Regering soek ma van asblik-baba
2010-09-13 14:15
Manila - Beamptes in die Filippyne is op soek na die ma van 'n pasgebore baba wat in die asblik in 'n toilet aan boord 'n Gulf Air-vliegtuig na Manila gevind is.
Beamptes het gesê die baba is gesond ná hy Sondag op 'n vlug vanaf Bahrein gevind is.
"Die baba is nou in ons sorg," het Celia Yangci, 'n beampte van die departement van maatskaplike ontwikkeling, gesê.
"Ons sal sy ma soek. Ons gee sy ma 'n kans om na vore te kom."
Octavio Lina, assistent algemene bestuurder van die Ninoy Aquino internasionale lughawe, het gesê owerhede het begin om na Gulf Air se vlugmanifes te kyk om te help om die kind se ma te identifiseer."
Skoonmakers het die seun, nog met die naelstring aan, in 'n asblik gevind.
Die seun wat in toiletpapier toegedraai is, het sowat 3kg geweeg.
Radiostasies in Manila was oorval met aanbiedinge om die kind, wat beamptes George Francis noem, aan te neem, maar Yangco sê die regering wil eers die kind se ma opspoor.
"Ons het 'n proses om te volg voor die baba as verwaarloos beskou word en beskikbaar vir aanneming gestel kan word. Die staat se beleid is om gesinne bymekaar te hou," het Yangco gesê.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters