Regering sal beskadigde huise in NS koop
2011-06-23 13:06
Wellington – Die Nieu-Seelandse regering het aangebied om 5 000 huise wat deur 'n verwoestende aardbewing in Christchurch beskadig is, by eienaars te koop.
Owerhede assesseer ook op die oomblik 10 000 ander wonings wat moontlik later gekoop kan word.
John Key, die Nieu-Seelandse premier, het gesê die aanbod is geldig vir huise wat op grond staan wat nou onstabiel is weens seismologiese aktiwiteit in die laaste nege maande. Dié aktiwiteit maak die herbou van huise byna onmoontlik.
Baie inwoners van Christchurch het in die laaste paar maande die begeerte uitgespreek om die gebied te verlaat. Meer as 7 500 naskokke van 3.0 en sterker het die gebied al geruk sedert September, toe die eerste van drie groot aardbewings plaasgevind het.
Baie huiseienaars kon egter tot dusver nie hulle wonings verlaat nie omdat hulle steeds verbande daarop afbetaal.
Geotegniese kenners het Christchurch nou in vier sones verdeel, en inwoners van die sone wat die ergste skade gely het sal in die volgende agt weke 'n formele aanbod van die regering ontvang, het Key gesê.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP