Reënseisoen in Haïti kan tot nóg rampe lei
2010-04-14 02:39
Genève – Die internasionale komitee van die Rooi Kruis (ICRC) het gewaarsku dat die reënseisoen wat in middel Mei verwag word “klein rampe” in Haïti kan veroorsaak waar 1,3 miljoen mense steeds haweloos ná die dodelike aardbewing is.
Sowat 38 000 mense kan moontlik deur die reënseisoen geaffekteer word aangesien hul skuiling in areas voorkom wat geneig is om deur vloede en grondverskuiwings getref te word, het die ICRC gesê.
Volgens Alex Wynter, woordvoerder vir die ICRC, sit 9 000 van dié mense se skuilings op rivierbanke wat weg kan spoel indien hul nie verskuif word nie.
Die ICRC beplan om ses groot skure in strategiese areas op te stel wat nood-items onder die bevolking sal versprei indien ‘n ramp die land tref.
Haïti verwag ook hul orkaanseisoen in Junie.
Die aardbewing wat op 12 Januarie plaasgevind het, het meer as 220 000 mense se dood veroorsaak en het sowat 1,3 miljoen haweloos gelaat.
- Sapa-AFP