Reeks bomme ruk Bagdad-woonbuurt
2011-09-23 14:23
Bagdad – Minstens vier mense is dood en elf beseer toe ‘n reeks bomme gelyktydig in ‘n Sunni-woonbuurt in Bagdad, Irak ontplof het.
Volgens ‘n bron in die binnelandse ministerie is vyf bomme rondom vier huise in dieselfde woonbuurt in Bagdad se westelike Ghazaliya-distrik geplant.
Twee bomme is op huise se deure vasgeplak, twee is in tuine geplant en een is in die straat voor ‘n huis gelos, het die bron gesê.
Volgens ‘n polisiebron is vier mense in die aanval dood en elf ander gewond. Nog ‘n polisiebron het gesê altesaam vyf mense is dood.
Geweld in Irak het skerp afgeneem vandat dit in 2006 tot 2007 ‘n hoogtepunt bereik het. Bomaanvalle en gevegte duur egter op ‘n daaglikse basis voort terwyl die weermag en polisie Sunni-rebelle en Moslem-burgermagte beveg.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Reuters