Rebelle ontvoer Indiese amptenaar
2011-02-17 11:11
Malkangiri, Indië - Maoistiese rebelle het 'n senior amptenaar in die oostelike Indiese staat Orissa ontvoer, het die polisie gesê.
R Vineel Krishna, distriksinvorderaar van die Malkangiri-distrik, was op pad om 'n inspeksie by 'n regeringsprojek te doen saam met drie ander amptenare toe rebelle hulle voorgekeer het.
Die rebelle het 'n brief aan die ander drie amptenare oorhandig waarin hulle die vrylating van rebelle in tronke binne 48 uur eis, en het toe met Krishna verdwyn, berig die BBC.
"Ons het nog nie daarin geslaag om met die ontvoerde distriksinvorderaar kontak te maak nie. Ons doen alles in ons vermoë om te verseker dat hy vrygelaat word," het Sanjeev Marik, hoof van 'n teenrebelle-inisiatief in die Orissa-staat, aan die BBC gesê.
Indiese veiligheidsmagte voer in verskeie state 'n stryd teen Maoistiese rebelle. Die rebelle voer aan dat hulle vir die regte van armes veg.
- Lees hier meer.
- Volg Nuus24 op Twitter