Raaisels omhul dood van vermoorde Britse spioen
2010-08-26 19:46
Londen – Verdere toetse is Donderdag uitgevoer op die liggaam van ‘n Britse spioen, wie se oorskot in ‘n reissak in die bad van sy woonstel gevind is.
Die polisie het Maandag op die oorskot van Gareth Williams (30) afgekom in die woonstel op die boonste vloer van ‘n spoggerige gebou, wat binne stapafstand van die intelligensie-eenheid M16 se hoofkwartiere langs die Thames-rivier is.
Sy ontbindende oorskot was in ‘n reissak in die bad van die woonstel in Pimlico. Die polisie glo hy is minstens twee weke gelede reeds vermoor.
‘n Eerste lykskouing op Woensdag kon nie die oorsaak van dood bepaal nie.
Ondanks spekulasie dat hy ‘n teiken kon wees weens sy werk, het die polisie gesê die ondersoek fokus op dié fietsry-entoesias se private lewe.
Speurders vermoed Williams het sy moordenaar geken, aangesien daar geen teken van geforseerde ingang by die woonstel was nie.
Die polisie het sy selfoon- en finansiële rekords, asook kringtelevisiemateriaal van die gebied, deeglik deursoek.
Sy huis is ook besonder versigtig deursoek, te midde vrese dat hoogs geheime materiaal vermis kon raak.
Sy familie het hom beskryf as “intens privaat”. Hy het glo nooit oor sy werk gepraat nie.
Williams het in 2000 by Cambridge-universiteit begin studeer vir ‘n nagraadse kwalifikasie in Wiskunde, maar het ‘n jaar later opgeskop om by die intelligensiedienste aan te sluit.
- Sapa - AFP