R2,8 miljard se kokaïne gevind
2009-09-28 03:09
Londen – Die Britse Royal Navy het Maandag beslag gelê op ‘n rekord hoeveelheid dwelms met ‘n straatwaarde van sowat £240 miljoen (R2,8 miljard).
Volgens die departement van verdediging het die HMS Iron Duke 5.5 ton kokaïne op ‘n vissersboot gevind.
“Dit is meer as wat ons nog ooit gehad het, “ het die bevelvoerder van die HMS Iron Duje, Andrew Stacey gesê.
“Dit is die grootste hoeveelheid kokaïne in waarde en volume.”
Die departement wou vir sekuriteitsredes nie inligting bekendmaak oor waar die ondersoek plaasgevind het nie.
Die vloot het die ondersoek geloods nadat een van hul helikopters ‘n vissersboot gewaar het wat “agterdog opgetree” het in ‘n area wat bekend is vir dwelmhandel, het ‘n verklaring gesê.
Die Iron Duke, tesame met ‘n ander Britse skip en die Amerikaanse Kuswag, het die boot op 15 September aangekeer en die volgende 24 gebruik om dit te ondersoek.
Hulle het meer as 200 bale kokaïne van 26kg elk onder sement in die boot se fondament gevind, het die departement gesê.
Die bestemming van die kokaïne is nog onbekend.
- Sapa-AP