Qantas skop moeders en baba's af
2009-08-06 09:01
Australië – Australië se grootse lugredery het groot ontevredenheid onder moeders veroorsaak nadat hulle vlugte na die hoofstad gekanseleer het weens oorbespreking.
Talle moeders was veronderstel om saam met hul kinders na Canberra te vlieg om in ‘n optog teen wette wat diskrimineer teen tuisgeboortes, deel te neem.
Die protesaksie vind 7 September buite die parlement plaas.
Die hoeveelheid besprekings vir kinders was “buitegewoon en baie besonders,” het ‘n woordvoerder van Qantas Airways Woensdag gesê.
Die voorval het plaasgevind weens die Qantas-lugredery se veiligheidregulasies wat die getal kinders onder die ouderdom van twee jaar tot slegs agt kinders per vlug beperk.
Meer as 20 baba’s is vir sommige vlugte bespreek, berig The Sydney Morning Herald.
“Ons is jammer oor die ongerief,” het die Qantas woordvoerder gesê.
Justine Caines, die sekretaris van Home Birth Australia het gesê ma’s was baie onsteld, omdat hulle eers weke na hul bespreking van die nuus in kennis gestel is.
- Sapa