Psigiater van SA teister glo talle oorsee
2011-05-11 08:11
Pretoria - Altesame 21 klagte van seksuele aanranding is reeds in Kanada deur pasiënte van ’n voormalige militêre psigiater van 1 Militêre Hospitaal in daardie land ingedien.
Dr. Aubrey Levin (72) is in Maart verlede jaar in hegtenis geneem nadat een van sy manlike pasiënte in Kanada ’n klag van seksuele aanranding teen hom ingedien het.
Dié 36-jarige pasiënt het beweer Levin het hom herhaaldelik aangerand. Niemand wou sy bewerings glo nie totdat die man ’n videokamera ten tyde van ’n konsultasie versteek het en die hele “toenadering” só op video vasgelê het.
Sedertdien het nog 20 pasiënte na vore gekom met soortgelyke klagte teen Levin.
Die departement van justisie in Kanada het in ’n verklaring gesê briewe is na nagenoeg 100 pasiënte wat Levin behandel het, gestuur waarin hulle gevra word of hulle enige getuienis tot die sake kan toevoeg.
Levin woon reeds sedert die vroeë jare negentig in Alberta, Kanada, waar hy veral in veroordeelde misdadigers se hofsake forensiese getuienis gelewer het.
Hy is destyds voor die Waarheid- en-versoeningskommissie (WVK) betrek by skokterapie vir homoseksuele dienspligtiges in die tyd toe hy die hoofpsigiater in 1 Militêre Hospitaal was.
Die skokterapie, waartydens elektriese skokke gebruik is om weersin in dieselfde geslag by dienspligtiges te wek om hulle te “genees”, is in die hospitaal se berugte Saal 22 toegedien.
Levin was as kolonel in 1 Militêre Hospitaal betrokke by die hele program om homoseksuele soldate te “genees”.
Die terapie het afgesien van elektriese skokke ook chemiese kastrasie en die toedien van hormone behels.
Die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad het in 2000 in ’n verslag, wat by die WVK ingedien is, die omstrede militêre program se besonderhede saamgevat. Luidens die verslag is daar glo selfs geslagsveranderingsoperasies op soldate gedoen, terwyl ander lewenslank onvrugbaar gelaat is weens chemiese kastrasie. Verskeie van die pasiënte het selfmoord gepleeg.
Levin het erken hy was by die program betrokke, maar het destyds beweer dit was “aanvaarde praktyk” om dié soort terapie toe te pas.
Hy was in Kanada eers betrokke by die departement van korrektiewe dienste voordat hy in 1998 gelisensieer is om as psigiater te praktiseer.
Alberta se departement van justisie is terselfdertyd besig om al die strafsake waarin Levin getuienis aangebied het, te hersien om seker te maak geen regsdwalings het tydens dié hofsake plaasgevind nie.
Levin is reeds tydelik as psigiater geskrap totdat die saak teen hom afgehandel is.
Volgende maand sal ’n voorlopige ondersoek van 30 dae moet bepaal of daar genoeg getuienis teen hom is vir strafregtelike vervolging om voort te gaan.
Alberta se genootskap van dokters en chirurge is ook besig met sy eie etiese ondersoek na Levin wat onafhanklik van die strafsaak op ’n tugverhoor mag uitloop.
Volgens die departement van justisie is Levin nou op borgtog, maar mag hy Kanada nie verlaat nie en mag hy ook met geen vermeende slagoffer kontak maak nie. Hy mag ook nie op enige wyse as psigiater praktiseer nie.
- Volksblad