Prof. sny 'ontroue vrou' se lippe af
2012-05-31 13:45
Stockholm – ‘n Professor wat gedink het sy vrou het ‘n buite-egtelike verhouding het haar lippe glo in ‘n jaloerse uitbarsting afgesny en dit toe geëet, lui 'n berig.
“Hy het haar lippe afgesny en geëet,” het die Sweedse dagblad Aftonbladet ‘n onbekende bron wat naby aan die saak is aangehaal.
“Hy is glo nie spyt oor enigiets nie. Hy dink sy is die een wat hom aanstoot gegee het,” het die bron bygevoeg.
Die man, ‘n medeprofessor by Swede se gesogte Karolinska Instituut wie se naam nie bekendgemaak is nie, word glo aangehou op ‘n aanklag van poging tot moord, het die berig gesê.
“Dit gaan natuurlik nie goed met haar nie. Nie sielkundig of fisies nie,” het die vrou se prokureur, Ingela Ekman Hessius, aan Aftonbladet gesê.
Die prokureur, wat Donderdag in die hof was en nie deur AFP bereik kon word vir kommentaar nie, het aan die koerant gesê haar kliënt het “baie ernstige beserings opgedoen. Die dokters het nog nie gesê of hulle dit sal kan herstel of nie.”
Die man, wat beveel is om ‘n psigiatriese waarneming te ondergaan, het glo ‘n paar kinders uit ‘n vorige huwelik wat slegs ‘n paar weke voordat hy sy huidige vrou ontmoet het, geëindig het. Die vrou met wie hy nou getroud is, is ‘n baie jonger vrou.
Volgens Aftonbladet het hy haar onlangs begin verdink van ‘n buite-egtelike verhouding en hy het gevolglik besluit om haar te straf.
“Hy wou nie hê die lippe moet weer aangewerk kan word nie,” het die bron gesê in antwoord oor hoekom hy dit geëet het.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP