Prins William erf groot op 30ste verjaardag
2012-06-21 11:55
Londen – Prins William vier Donderdag sy 30ste verjaardag en hy kan volgens ‘n klousule in sy ontslape ma se testament £10 miljoen (R129 miljoen) erf.
Diana, prinses van Wallis, het die grootste deel van haar boedel aan haar seuns William en Harry gelaat, wat ten tyde van haar dood in 1997 onderskeidelik 15 en 12 jaar oud was.
Die eksekuteurs het beslis dat hul erfporsies nie aan hulle gegee moet word totdat albei 30 is nie.
Diana het ‘n netto boedel van £12 966 022 (R167 miljoen) gelaat, maar daar word beraam dat die bedrag gegroei het na sowat £20 miljoen (R258 miljoen) deur beleggings.
Bespiegelings dat William en sy vrou Catherine – die hertogin van Cambridge – die geld kan gebruik om ‘n huis op die platteland te koop, is gedemp deur gerugte dat William gaan teken vir nog ‘n dienstydperk in die Royal Air Force se soek-en-reddingspan.
“Daar was bespiegelings dat die hertog en hertogin ‘n huis gaan laat bou, maar daar is nog geen planne daarvoor nie,” het ‘n koninklike vertroueling aan die Daily Telegraph gesê.
William en Catherine, wat verlede jaar getrou het, sal na verwagting sy verjaardag saam met vriende vier voordat hulle terugkeer na hul gehuurde plaashuis op Anglesey, ‘n eiland aan die noordwestelike kus van Wallis.
– Volg Nuus24 op Twitter
- Sapa - AFP