Prins Charles besoek onlusgeteisterde Tottenham
2011-08-17 18:45
Londen – Prins Charles en sy vrou, Camilla, het die
families wat dakloos gelaat is ná die onlangse onluste in Londen besoek.
“Welkom in Tottenham,” het een van die inwoners
die prins en sy vrou verwelkom toe hulle by ‘n plaaslike gemeenskapsaal opdaag.
Die gemeenskapsaal word tans gebruik om
diegene wie se huise tydens die onluste afgebrand is, by te staan.
Die onluste het winkels en woonstelle in die
hoofweg van Tottenham verwoes en sowat 200 mense dakloos gelaat.
Charles en Camilla het hul somervakansie in
Skotland kortgeknip om die besoek af te lê.
“'n Mens sou nie dink hulle gee om nie, ” het ‘n 20-jarige
vrou gesê wat saam met die brandweerdienste, plaaslike polisiebeamptes en
diegene wat deur die onluste geaffekteer is, die koninklike besoekers ingewag
het.
“Dis
hartseer dat dit so ‘n tragedie vat vir hulle om ons te besoek,” het sy
bygevoeg.
Dymond Allen, ‘n 33-jarige jeugwerker in die
area, het die prins gegroet en na die tyd gesê dit wil darem voorkom of daar ‘n
mate van empatie is.
“Maar die koninklikes het eintlik geen idee
wat hier op straat aan die gang is nie,” het hy bygevoeg.
Allen het ten tyde van die onluste op die straat jongmense probeer oortuig om eerder huis toe te gaan en nié aan die geweld
deel te neem nie.
Hy blameer die polisie vir die voorval en sê
die inwoners van areas soos Tottenham is moeg vir polisie-brutaliteit.
Volg Nuus24 op Twitter.
- Sapa - AFP