Pretpark verbied Moslem-vroue om saam te ry
2011-08-31 16:32
New York – 'n Herrie het in New York losgebars toe die eienaars van 'n pretpark 'n vrou met 'n Moslem-hooftooisel verbied het om op 'n wipwaentjie te ry, berig New York Daily News.
'n Groep ontstoke Moslems het met die polisie slaags geraak toe hulle daarop wou aandring dat 'n vrou met 'n kopdoek op 'n wipkarretjie toegelaat moet word. Altesame 15 mense, onder wie drie vroue, is ná die onderonsie vir oproerigheid in hegtenis geneem.
Sowat 3 000 Moslems is Dinsdag na die pretpark Rue Playland is om die heilige dag van Eid te vier.
'n Vrou, Entisai Ali, het glo met die pretpark se bestuurder begin stry oor Rue Playland se beleid dat geen vrou met 'n Moslem-kopdoek of -hijab op hul ritte mag ry nie, het 'n ooggetuie vertel.
Kort voor lank het polisiebeamptes op die toneel opgedaag. Ali en die polisie het aan mekaar begin stamp, waarna nog mense nader gestaan het en met die polisie handgemeen geraak het.
Twee beamptes van die pretpark is beseer en sowat 100 polisiebeamptes het hul na die toneel gehaas om orde te herstel.
Ingevolge die pretpark se beleid mag geen hooftooisels op pretritte gedra word nie, omdat dit van mense se koppe kan afval, in masjiene verstrengel kan raak en sodoende tot 'n veiligheidsrisiko aanleiding kan gee. Dit geld glo vir sowel Moslems as nie-Moslems.
Ali se vriende aanvaar egter nie die verskoning nie.
"Sy wou maar net saamry, dis al," het die 18-jarige Dena Meawad, 'n ooggetuie ná die tyd opgemerk. "Dit is duidelik dat dit alles gebeur het omdat ons Moslems is."
Lees meer hier.
Volg Nuus24 op Twitter.