Pres. Sarkozy alte waaghalsig
2012-01-31 09:00
Den Haag – Hoewel die veldtog vir die Franse presidentsverkiesing oor iets minder as drie maande nog nie amptelik begin het nie, vertoon dit reeds verskeie merkwaardige eienskappe.
Een is dat die verdediger van die kampioenstitel, pres. Nicolas Sarkozy, nog nie amptelik sy kandidatuur verklaar het nie. As hy daaroor gevra word, bly hy vaag.
Politieke waarnemers meen dit word met opset gedoen. Pleks daarvan duik Sarkozy op tientalle plekke in die land op, hy spreek vergaderings toe, staan onderhoude met die media toe – eergisteraand met ’n televisie-onderhoud wat deur agt stasies tegelyk uitgesaai is.
En wat hy doen en sê, is alles bereken om hom die beeld van staatsman, van vader en beskermer van die Franse republiek te gee. In sy televisie-onderhoud het hy byvoorbeeld aangekondig dat die verpligte arbeidskoste wat werkgewers moet betaal, verlaag gaan word om die arbeidsmark te liberaliseer en ekonomiese groei te stimuleer.
Om dit te finansier word die BTW met 1,6 persentasiepunte verhoog.
Dis ’n uiters waaghalsige strategie vir iemand wat bitter graag herkies wil word, maar ver agterloop by sy belangrikste mededinger, mnr. François Hollande van die Sosialistiese Party. Dit gebeur nie aldag dat ’n regeringshoof ongewilde maatreëls instel só kort voor ’n verkiesing nie, maar Sarkozy se waagstuk is dat die kiesers sal sien hy beskerm Frankryk se nasionale belange – in teenstelling met Hollande.
Nog ’n merkwaardigheid is dat die Duitse bondskanselier, dr. Angela Merkel, haar agter Sarkozy geskaar het. Sy het aangekondig dat sy later ’n paar van Sarkozy se openbare verkiesingsvergaderings sal bywoon.
Kenners meen Merkel is bekommerd oor die tipies sosialistiese geluide wat Hollande maak, dat hy die huidige besnoeiingsdrif gaan omkeer en weer geld soos bossies gaan bestee om die armes te help.
Sy en Sarkozy loop op persoonlike vlak nie oor van liefde vir mekaar nie, maar politiek werk hulle uitstekend saam, en Merkel wil dit graag so hou.
– Volg Nuus24 op Twitter.
- Volksblad