'Premier het nie sekspartytjies gehou'
2011-01-26 08:00
Rome – Regsverteenwoordigers van die Italiaanse premier, Silvio Berlusconi, het getuienis by die magistraat ingedien deur dosyne ooggetuies wat ontken wilde sekspartytjies is by sy luukse villa gehou.
Dagblaaie het die dokumente aangehaal waarin die verslae wat die afgelope week in die media verskyn het, verwerp is.
Luidens die dokumente was die aande by Arcore, naby Milaan, statige en feestelike byeenkomste.
“Dit was bloot aandetes tussen vriende, met geen alkohol of seks nie,” lui ’n uittreksel van die dokumente wat Dinsdag in die dagblad Corriere della Sera verskyn het. “Dié aande by Arcore was gewone aande.”
Die dokumente is gegrond op verklarings van 30 getuies, insluitend kelners, musikante en gaste, en sal waarskynlik aan die parlement voorgelê word, waar aanklaers die verklaring van 389 bladsye verlede week ingehandig het.
Berlusconi se politieke toekoms hang aan ’n draadjie ná bewerings dat hy jong meisies vir seks betaal en druk op die polisie uitgeoefen het om een van hulle vry te laat nadat sy op ’n onverwante diefstal-klag aangehou is.
Berlusconi (74) ontken die aantygings en sê hy is die slagoffer van ’n smeerveldtog.
Karima El Mahroug, oftewel Ruby, ’n nagklubdanseres midde-in die bewerings, ontken sy het seks met hom gehad. Volgens haar het hy haar €7000 (sowat R68000) gegee weens haar moeilike omstandighede.
Volg Nuus24 op Twitter
- Reuters